Helene de Kock
woon in Pretoria en is
al meer as 40 jaar lank getroud met dr. Jos de Kock. Hy is op die raad van
die Proteïennavorsingstigting en evalueer navorsing in verband daarmee.
Hulle het drie kinders, Jaco,Herman en Sylvia.Jaco is oorlede maar hulle het
die troos en vrede om te weet dat hy nou by God woon. Herman en Sylvia skryf
albei ook. Herman is getroud met Emmie, en hulle het twee fraai dogtertjies,
Johanna Helene en Emmarentia Lydia. Herman is ‘n gelegitimeerde predikant
met spesiale belangstelling in prediking en sterwensbegeleiding. Hy is ook
‘n bankier en skryf net so graag soos sy ma. Emmie is ‘n
handelsmerkprokureur. Sylvia woon by Jos en Helene en het ‘n BML graad in
bestuursleierskap. Sy skryf ook, en haar spesiale belangstelling is in
Christelike geskenkboeke.
Helene se skryfwerk dek ‘n wye spektrum van genres. Sy doen ook
joernalistieke werk en skryf resensies vir dagblaaie. Sy skryf al langer as
dertig jaar lank en meer as 40 boeke is gepubliseer. Van haar vroeër werke
verskyn nou in omnibusse, maar sy skryf steeds nuwe romans asook geestelike
werk en kinderboeke. Daar verskyn binnekort nog ‘n omnibus en ook nuwe
romans van haar. By CUM verskyn daar ‘n boek oor haar seun se dood met die
titel ‘As dood Lewe word’. Sy skryf vir verskeie uitgewers soos Tafelberg
Uitgewers, Human & Rousseau, Litera, CUM, Aktuapers en LAPA. Sy het ook ‘n
gereelde rubriek naamlik ‘BBP’s’ op
www.ekerk.co.za.
Helene skryf graag oor die liefde - maar net so belangrik in haar werk is
die klem op die werklike lewe en die eise wat dit aan álle verhoudings stel.
Sy verwys na haar romans as verhoudingsverhale. Sy het byvoorbeeld ‘n roman
geskryf wat oor ‘n periode van byna ‘n eeu strek. Dit is die liefdesverhale
van twee vroue wat nie slegs die trauma van oorlog ken nie, maar ook die pyn
van verlange en wantroue. Helene het ‘n Meestersgraad in Afrikaans en
Nederlands wat sy cum laude verwerf het. Sy het in 2008 ‘n toekenning gekry
vir die beste meestersgraad in Afrikaans en Nederlands aan die
Universiteitvan Noordwes. Haar roman ‘Dieper Water’ is juis ‘n uitvloeisel
van hierdie studie.
Sy skryf ook kortverhale wat al in bundels opgeneem is. Hierdie bundels is
saamgestel deur T.T.Cloete, Jeanette Ferreira en Daniel Hugo.
Helene was verskeie male naaswenner met die ATKV/Sarie pryse vir
vervolgverhale en ook die ATKV/rooi rose kortverhaalwedstryd. Al haar
vervolgverhale is in boekvorm deur verskeie uitgewers uitgegee en ander
romans het weer direk in boekvorm verskyn. Sy gee sporadies lesings oor
Skryfkuns aan die Skryfskool van die Noordwes Universiteit asook by die
Universiteit van Pretoria.













